
Die Gestorwe Soldaat het nou die dag ‘n possie geplaas wat my nogal laat dink het. Dit was getiteld; “Straatkind”
Hoe dilwels sien ons dit nie in vandag se tyd nie? Hulle staan daar by die verkeerslig, verslons en vuil met jammerlike uitdrukkings op die gesigte en sleg-bewoorde boodskappe op afgeskeurde stukkies karton gegriffel wat smeek om hulp; “Geen kos, geen werk, siek vrou, ses kinders!” Hier en daar kom ‘n hand uit met ‘n kleingeldjie, dankbaar ontvang met ‘n patetiese buigintjie, ‘n een-tand-glimlag – maar meeste motors ry verby met ‘n kop wat skud of ‘n hand wat swaai; “gaan weg.”
Mens besef meteens daar is baie armes in ons verskeurde landjie. Wit, swart, bruin, geel pers. Al die kleure is daar – op die sypaadjie. Wat ook-al jou goed ge-oefende antwoord jou morele standpunt, jou uitgebreide en weldeurdagte filosofie, wat ook-al jou agtergrond, agter elke geskeurde karton bordjie is daar ‘n storie, ‘n individu, ‘n mens en telkens word jy betrap soos ‘n hasie in die hoofligte van ‘n vragmotor; betrap in ‘n strikvraag wat die noodlot meedoeënloos aan jou stel. “Wat doen JY daaromtrent boesman?” Wat doen jy as daardie honger oë soos soekligte jou hart en siel deurboor, wat doen jy? En wat is nou eintlik die regte ding om te doen?
‘n Paar jaar gelede was ek in Mumbai, toe dit nog Bombai genoem was. Armoede hang daar soos ‘n swaar reuk in die lug, jy sien dit ooral, net waar jy kyk. Mense slaap half-naak op die sypaadjies onder plastiek seile en koerant papier. Jong kindertjies loop kaal op straat rond en bedel. Gee jy vir een van hulle iets word jy oorstroom deur ‘n horde ander wat soos haaie om jou sirkel en aan jou moue pluk en trek en beduie. Onwillekeurig kom die vraag by jou op: Wat as ek Bill Gates was en ek gee alles wat ek het aan die een biljoen armste mense op aarde? Wel, jy sou so ongeveer R350 aan elkeen kon gee, genoeg vir ‘n paar maaltye, en dan wat? Sou dit regtig gehelp het?
Wat is die antwoord?
Wat dink jy?