Archive for April, 2008

Braaiwet

April 17, 2008

Ja-nee, ek sê vir julle, dis genoeg om van te stik in jou braai-worsie, om van te hoes aan daardie braai-vleis vuurtjie, kort-om, om sommer van jou stoel af te donner.
Magtag!
Het jy nou al ooit van sulke snert in jou lewe gehoor? Ek wonder wat ou Gert Gariep hiervan sal sê; hy is nou mos juis so lief vir sy ou braai-vleisie. Ek meen te sê, wie van ons is dan nie?

Wat gaan die regering volgende uitdink om ons sakke mee te skud?

Die Bier Wet miskien?

Lees maar self….

kliek op die prentjie om dit te vergroot

Dingeling !

April 15, 2008

En daar is Ding se Dingeling nou mooi in sy Dinges in. Of is dit net my kompioeter wat weer skeef is, maar ek kom nie ‘n dinges in Ding se blog nie, traai maar self. Wat gaan NOU daar aan? Ding as jy hoor, laat weet asseblief.

Sonkind, innig jammer om te hoor van julle drama en baie bly dat dit nie erger was nie. Dink aan julle. En hier wil ek van Gauteng af wegvlug in daardie rigting!? Wys jou net, elke plek het maar sy hassels.

En ja, die winter bekruip ons hier in Gauteng soos ‘n wafferse struikrower; as jy weer sien dan is hy op jou soos ‘n boerboel op ‘n tefie in die ander tyd en Vroulief het toe maar die warmkombers se somer-vakansie kort geknip en die oukie laat aantree vir diens. Gelukkig is ons beurt-krag hiersô net tussen 2 en 6 in die middag; tot nou toe, bygesê.

So gepraat van beurt-krag. Waar kom daardie term vandaan? “Dis jou beurt om die kerse te gaan kry ou-sus!” (hê, hê.)

Spelling !!!

April 11, 2008

Kyk daardie Afrikaanse juffroukie het tevergeefs aan my ore getrek en my met haar linieaal gewetter, my spelling het maar vrot gebly tot vandag toe. As jy nou Ingels skryf is daar mos ‘n spel-checker maar wat nou van as jy begin griffel in die A-groep taal? Ek het al ‘n Afrikaanse spel-checker of twee loop koop maar kon dit nooit laat werk nie, (dom nê?)

Toe kom ek af op ‘n briljante idee. Google die woord ‘afrikaanse spel checker’ en whala, daar is sommer ‘n paar om van te kies en een of twee is selfs gratis! Ek laai toe die gratis een af by www.wspel.co.za Mens moet dan net so klein biekie gaan tokkel met jou kompioeter se binneste (gelukkig niks te tegnies soos die BIOS of so nie) maar dis nogal maklik as jy die instruksies volg wat saamkom en BAKGAT, nou kan my blikbrein in Afrikaans ook spel en ek kan ook so slim soos Johan en Da Mario en Gert klink!

Ek moet sê, julle spel eintlik almal dêm oulik, het seker al lankal….

Ja okei, agter-os-knersis kom ook in die kraal.

Lekker dag almal.              :D

Ek is ook terug!

April 7, 2008

Jammer vir die stilte en dankie vir die wat ingeloer het en gewonder het waar ek was.

Ek leef nog en is heeltemal dood-dollies. Ek het net so ‘n klein probleempie met my laptop gehad. Elke keer as ek iets op die dêm ding probeer doen soos werk of my admin uitsorteer, dan konnekteer dit vanself na Gert Gariep se blog en dan lees ek te lekker, ook sommer gou al die ander blogs ook. As ek my weer kon kry is so hele klomp ure verby en ek het nog by niks uitgekom wat ek eintlik moes doen nie. Gelukkig (of ongelukkig) het ek nie ‘n kantoor werk nie, want dan sou ek maar gebars het om deur al my werk te kom.

O-ja, en toe sê Vroulief: ‘Jy sit net die hele dag voor daai dêm kompioeter, wat van my, ek het ook ‘n binneste!’ Nou-ja-toe, ek moes toe eers biekie paai en voor my eie sypaadjie vee en weer die home-fires hoog kry (en my gat af gewerk in die tussentyd), maar nou’s ek terug.

Ek is sommer baie bly ou Gert is weer terug – was nogals bekommerd vir’n wyle toe die braaivleis vure daar aan die weste begin stil raak het. Welkom terug ou Grote, daardie prentjie hier bo op my blog het ek self geneem van een van my eie vuurtjies nou die dag, juis nadat ons so lekker lees van jou gebraaiery.

Ek is net so bly dat ou DING weer terug was vir een possie; hy het darem laat weet dat hy besig is met die oestery, so as ons nie te gereeld van hom hoor nie weet ons darem hy is okay, hy werk net hard. Sterkte daar op jou stoep en voorspoed met die plaaswerk.

Welkom hier op die blogosfeer Pikkelik!

Tot later, mooibly Bloggers!