Mauritius …
Wel, ek het belowe om meer te vertel en, ag shame, dit was nou nie my bedoeling om julle jaloers te maak nie. Maar sjoe, dit was lekker.
Gister aand eers by die huis gekom. Kon nie wag om ‘n vuurtjie aan die gang te kry en gou ‘n boerie te braai nie. Bliksem, maar dit voel goed om weer tuis te wees! Die internet konneksie daardie kant is vrek stadig en moer duur, so vandag wil ek net rustig wees en opvang met my vrinne op die blogosfeer.
Maar gou so ietsie van ons trippie. Ek en Liefie is hierdie jaar drie jaar getroud. Ons besluit toe, aangesien ons nooit ‘n behoorlike honeymoon gehad het nie en omdat ons beide hierdie maand verjaar, om die twee te kombineer. Laat honeymoon en twee verjaarsdae met een slag gevier!
Vir ‘n week lank het die tyd stilgestaan in ‘n oordosis van son,sand, seil, see en skemerkelkies. Die oos-kus is bekend vir sy konstante mooiweer en daar was heelwat aktiwiteite om jou besig te hou. Jy kon seil op sulke twee-man bootjies, fietsry met lekker mountain bikes, snorkel, hike, parasail, duik, diep-see visvang, op verskeie toere gaan, of lekkerste van alles, net onder een van daardie ronde dakkies lê en niks doen nie.
Een dag was ons Port Louis toe, die hoofstad, aan die ander kant van die eiland. Dis ‘n tipiese hawe stad en laat jou bietjie aan Kaapstad dink, maar alles net op kleiner skaal en sonder ‘die berg.’ Die mark was maar bra bedompig en bedruk. Jy kan alles daar koop, van aartappels tot onderbroeke. Alles ruik soos grond, groente en kerrie-poep.
O ja, en ek het my bes gedoen om te kyk vir ‘n cherry vir DM en DGS maar daar was net ou tannies, jong kinders en vet oompies wie se pense uitpeul en tril soos walrusse. Sorry manne!
Hierdie Mauritiërs is darem ‘n dêm snaakse lot. Hulle gaan mos gebuk onder ‘n groot Franse invloed, so almal praat Frans hierso. Ek kan dit nou nog nie uitwerk nie, maar hulle wil net die hele tyd hoor of jy wil pie; ‘Wee monsieur, wee, wee?’
Ja-nee, alle goeie dinge moet ook seker maar op ‘n einde kom. Maar, hene. Was daai boerie toe lekker!? Swaarie, wat die plek op gepas het, het darem vir my so paar black labels gelos ook. Wonderlik! Daai Phoenix bier van hulle proe soos gegeurde sodawater, jig! Nee terug in die as-kan met jou Phoenix. Bly sommer daar! Moenie weer opstaan nie!
‘n Geskenkie!
Een oggend vroeg opgestaan om die een te vang,
Spesiaal vir jou.






